Deur Nellie Brand-Jonker - Sake 24
Wetgewing wat veronderstel was om korrupsie by munisipaliteite aan te roer, het tot ’n ontploffing in burokrasie gelei.
Me. Helen Zille, premier van die Wes-Kaap en voormalige burgemeester van Kaapstad, sê dit verydel die bystand wat aan maatskaplike projekte gebied kan word.
Zille het by die bekendstelling van ’n finansieringsmodel vir maatskaplike projekte gesê elke keer as ons moet besluit oor bystand het ek besef hoe ons praktyk verskil van die visie van maatskaplike entrepreneurskap. “Ons het geld gestort in projekte waarvan die uitkoms moeilik verseker kan word, die volhoubaarheid onmoontlik is om te bepaal en die impak nie maklik gemeet kan word nie.”
Sy het gesê sy is gefrustreerd met die beperkings van die Wet op die Bestuur van Munisipale Finansies (beter bekend as MFMA) op uitvoerende burgemeesters.
Al is die wetgewing nodig om korrupsie in toom te hou, is die resultaat “sulke streng reëls dat burokrasie soos paddastoele opskiet”.
Sy het op die provinsiale bosberaad voorgestel dat ’n oudit gedoen word oor die geldelike hulp wat deur die departement van maatskaplike ontwikkeling aan projekte gebied is om vas te stel “presies watter impak al die geld het en hoe volhoubaar dit is”. Mnr. Peter Shrimpton, ’n maatskaplike entrepreneur wat Heart Social Investments bekendgestel het, het gesê maatskaplike probleme is oor die eeue heen deur liefdadigheidsbydraes opgelos.
“Maar as iemand dink skenkings aan liefdadigheidsorganisasies gaan die huidige probleme oplos, maak hulle ’n vreeslike fout waarvoor hul kinders gaan boet,” het hy gesê.